Home > Author > Hans du Plessis > detail

Hans du Plessis

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria en behaal ’n B.A. aan die Universiteit van Pretoria. Terwyl hy onderwys gee, verwerf hy ook die U.O.D., Hons. B.A. en M.A, laasgenoemde twee met lof, aan UNISA. In 1975 verwerf hy ’n doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde ook aan UNISA. Daarna volg hy ’n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. Hy woon verder in 1991 skryfskole in Iowa en Oklahoma by. Hy het reeds 160 publikasies agter sy naam, maar debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en vier romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses dramas en musiekspele uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer. Sy veertiende, Karos orie dyne, verskyn binnekort. Hy verwerf onder andere die C.R, Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk vir die digbundel, Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar nou reeds meer as 65 000 eksemplare verkoop is. Hans du Plessis is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle het vier getroude seuns en sewe kleinkinders.


the Works of Hans du Plessis