Home > Author > Steve Hofmeyr
1 " Maar dan was ons s’n nie bloot seks nie. Dit sou teleurstellend wees. Ons s’n was seismologie. Eers ligte waarskuwings van tektoniese aktiwiteit, gevolg deur ontruimingsaksies in jou bloedvate. Dan iets wat deur die aardkors in jou bene intrek en tsoenami’s wat deur jou buik golf in faktore van tien. Die vonke was van die kaliber wat spat; daar waar die hemel en hel bots en goed en kwaad skouers skuur. Dan later, veel later, die Doppler-effek; ’n afplatting van sirenes soos dit terugtrek die stiltes in. Dan naskokke en katarsis; die skadebeheer van ’n lag of noodhulp in ’n fluistering. "
― Steve Hofmeyr , Die onaantasbares
2 " Ek het haar die hoer gemaak van my behae en die slaaf van my nukke "
3 " Alle kennis is voorlopig en elke uitsig is belemmer. "
4 " Dis ’n vroom herfsoggend. Dweperig. Soos Maart is. Sy hou haar voor as somer, maar daar’s ’n winter in haar mou. Sy vang ons nie onkant nie. Ons ken haar so. Sy maak groot bohaai, gooi donder, slaat bliksem, blaas wind en stoot oplaas enkele vermoeiende druppels oor ’n dor Pretoria uit. Daarna speel sy weer somer tot die son sak. Jy weet nie hoe jy dit met haar het nie. Jy hoop vir meer, sprei jou palms oop onder die son, dan kom spoel sy haar voshaarkwas af in jou tuin en beweeg aan. Net so. "
― Steve Hofmeyr , Laaste dans, Drienie
5 " Bloed op ’n blom. Goed. Om ’n lang storie kort te maak. Ek staan hier met my hakke teen die voetenent van haar graf en die kort loop teen my voorkop. My duim is op die sneller. My wysvinger op die hamer. My hand ruk onder die gewig. Maar ek hou hom lynreg gerig. Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste en wanneer hy sy hand laat sak het, die Amalekiete. Is dit U sagte hand hier onder my elmboog vandag? Want dit help net mooi niks. Die dêm ding raak swaar. Hoe lank staan ek al hier? Hoeveel vrae gevra? Hoeveel antwoorde gekry? Niks. Time-fokken-out. Tyd het nog nooit so min beteken, na so min geruik of so sag geklink nie. Tyd was nog nooit so ontydig nie. Dalk proe tyd na die binnekant van jou mond, na die laaste ding wat daar deur is. Soos ’n vloekwoord. ’n Sug. Of ’n naam. Ek rol my tong een keer deur. Nog ’n sintuig klok uit. As ek haar naam net mag proe. Maar dis nie meer daar nie. Daar is niemand wat sal kom as ek haar naam roep nie. En dis my skuld. En ek kan net nie daardie kruis alleen dra nie. Ek is nie Job nie, Ma. Ek kan nie toekyk terwyl die gode deals maak onder my neus nie. Die lyn wat Goed en Kwaad skei loop eintlik dwarsdeur elke mens. Deur my ook, sê jy. Maar links hou op ’n tiekie is sommer baie inspanning vir ’n ou sonder ’n plan B. Ek wil nie meer nie. Beproewinge bevry my nie soos vir Job nie. Dit beleër my. Rampe maak my nie sterker nie. Dit troef my. Ondervinding bevry ander, maar maak my swaarder. En ek voel my omsingel vandag. Fyngedruk soos ’n mot. Die gode het gewen. Ek glo nie meer in dinge-sal-regkom nie. Ek het my geloof in God en goeie vooruitsigte so saam-saam verloor. My verhemelte wil die heil en onheil nie meer onderskei nie. My hemele stuur die Eliaswolke en reënnewels tegelyk. Ek kyk nie eers meer op nie. Dis nie dat ek nie weet nie. Dis dat ek te veel weet maar die deugde nie uitmekaar kan ken nie. Om jouself om die lewe te bring is soveel anders as om iemand anders dood te maak. Soveel moeiliker. Jy weet, selfmoord is sneaky. Die een helfte van jou brein probeer jou oorreed dat die ander helfte lieg. Links priem jou met redes om te gaan en regs por jou om te vertoef, soos vir ’n loopdop. Maar dié koeël sal my kwytskeld. As jy in die kort loop van ’n .38 Special staar, kan jy die merkies op die stomp loodpunte van die ander vier patrone sien. Nie dat ek hulle ooit nodig sal kry nie. Op hierdie afstand sal een koeël meer as genoeg wees. Ek kyk vir oulaas om. Ag. Die blomme. Ek laat sak die rewolwer, draai om en haal die mooi ruikers van die groot grafsteen af. Ek kyk rond. Daar is niemand nie. Net die denne. En ’n duif wat roekoek. Dis jammer. Ek wil vir iemand sê mens bloei nie op blomme nie. Wat ’n gedagte moes bly, glip toe uit. Die duif vlieg met trae vlerkslae weg. Mens bloei nie op blomme nie. "
― Steve Hofmeyr , Kapabel